------ ------------- -----------------


...

Meer oor ons

Griffel Media is in 2005 gestig met die doel om veral nismark-publikasies uit te gee. In die proses ook om skrywers van alle agtergronde, oortuigings of vaardighede die geleentheid te gee om hul stem te laat hoor, of bloot hul talent uit te stal en met ander te deel.
 
Alhoewel Griffel Media so ver moontlik bedryf word met gesonde sakebeginsels in gedagte, is daar ‘n behoefte om ‘n groter saak te dien (as die een waar Mammon die septer swaai). Hierdie groter saak is die uitbou en versorging van taal (enige taal) en idees, die ontsluiting van inligting en die ontluiking van ’n moderne, goed-afgeronde Suid-Afrikaanse gemeenskap, waar daar veel meer begrip, bewondering, verwondering en waardering is vir die diversiteit en kompleksiteite wat Suid-Afrika juis so uniek maak.
 
Ons glo in Suid-Afrika en al sy mense, en glo dat daar nog ongelooflik baie stories is om te vertel, inligting is om te ontsluit, opvoeding wat kan plaasvind, opinies en oortuigings wat gedeel kan en moet word.

Alhoewel ons nie rigied is met betrekking tot die tipe materiaal wat ons uitgee nie, skerm ons weg van prekerige, fundamentalistiese dogmatisme en stroperige liefdesverhale. Uiteraard word voorkeur gegee aan skerp koploskrap nie-fiksie.

In sy relatiewe kort bestaan het Griffel Media dit reggekry om ‘n uitstekende en diverse versameling titels en produkte in sy stal te verseker. Besoek gerus ons boekrak.

By Griffel Media glo ons in meer as boeke – ons glo in idees en konsepte. Ons het ook verskeie unieke publikasiemodelle en ons glo daarin dat die outeur betrokke bly regdeur die proses.

Die bestuurspan van Thomas Mollett en Hendrik Venter, ook die stigterslede, sorg vir die daaglikse funksionering en bestuur van die besigheid en beide tree ook op as uitgewers van onderskeie publikasies. (Thomas Mollett verlaat Griffel op bestuursvlak aan die einde van Maart 2010 en enige navrae kan aan Hendrik Venter gerig word.)

Candice Samuels hanteer die finansiële administrasie en Carmelita Williams assisteer die uitgewersdirekteur en is ook gemoeid met algemene administrasie. Xavier Nagel en Owen Early is die verkoopsverteenwoordigers.

On the Dot Logistics hanteer alle voorraad en verspreiding.

Griffel Media bied die volgende dienste:

Uitgee van mediaprodukte binne die volgende 3 moontlike uitgewersmodelle:

1. In hierdie model sal Griffel Media teen 'n voorgestelde fooi 'n mediaprojek fasiliteer en/of bestuur, en dus nie noodwendig as die uitgewer of bemarker van die produk optree nie.

2. Griffel Media tree graag as 'n vennoot in 'n projek op, sou die projek en moontlikhede dit daartoe verleen. Dit sou beteken dat Griffel Media en die outeur beide finansieel en andersins bydrae tot die verwesenliking van die projek, waarna daar op 'n dienooreenkomstige winsdelingsbasis ooreengekom word.

3. Hierdie opsie neig na die tradisionele uitgewersmodel, waar Griffel Media al die kostes tov die die projek sal dra, en die outeur slegs tantieme daaruit verdien.

Skakel ons gerus vir meer inligting in hierdie verband.


Tel: 021 465 0025 - Fax: 0866 750 776 - Web: www.griffel.co.za - Email: info@griffel.co.za
27 Derry Street - Vredehoek - Cape Town - RSA - 8001