------ ------------- ----------------- ----

...............Griffel Nuus

Meer oor opkomende titels (Jul-Aug 2010):

___________________________

NLP: Jou taal van uitmuntendheid

Jorgan Harris

In hierdie eerste volwaardige Afrikaanse boek oor NLP (Neuro Linguistiese Programmering) stel Jorgan Harris, ‘n sielkundige, hierdie populêre sielkundige implement en wetenskap aan die leser bekend. NLP staan in wese bekend as “die taal van sukses of van uitnemendheid” en word reeds wêreldwyd op ‘n persoonlike- en besigheidsvlak met groot sukses aangewend.

Wat NLP (en die boek) jou onder meer mee kan help:

  • mense motiveer;
  • besluitnemers oorreed;
  • konflikte en persoonlikheidsbotsings oorkom;
  • effektiewe interaksies, soos vergaderings fasiliteer;
  • wen-wen situasies skep;
  • verskuilde agendas raaksien;
  • kantoorpolitiek hanteer;
  • weerstand om te verander, oorkom;
  • duidelike, oorredende kommunikasie bewerkstellig;
  • mense met ‘n moeilike houding anders oortuig;
  • loopbaanontwikkeling fasiliteer en bystaan;
  • wonderlike dinge regkry met alledaagse kommunikasie, in groepe of in ‘n een-tot-een verhouding;
  • beheer neem oor jou emosies wanneer dit belangrik is;
  • jou ervaringe, prestasies en goeie gevoelens van die verlede gebruik om dit weer te kan ervaar om jou doelwitte te bereik.

___________________________

Die dood van die God van my vaders

Nico Smith

In die 1980’s verrys ‘n vreemde struktuur in Mamelodi, ‘n township by Pretoria. Die township-mense skud die kop en doop dit “Smith se Pampoenhuis”. Dr. Nico Smith en sy vrou, Ellen, verruil hulle twaalfvertrekhuis in “wit” Pretoria vir dié viervertrekpondokkie midde-in die woonplek van duisende swart mense – sekerlik die enigste wit Afrikaanse mense wat in daardie jare van opstand en ellende so iets sou waag.

In Die dood van die God van my vaders vertel Smith, eertydse professor aan die NG Kerk se Kweekskool op Stellenbosch, die verhaal van sy vereenselwiging met sy gemeentelede in Mamelodi, maar dis nie net Smith se storie nie. Die boek is bowenal die verhaal van die gewone swart mense wat onder apartheid die “ellendiges van die aarde” geword het. Dit was die tyd toe meer as duisend wette elke aspek van hulle kom en gaan beheer het. Dit was ook die tyd van die struggle, wat onafwendbaar op bevryding moes uitloop. Dié verhaal word met deernis en insig vertel, soms selfs met humor, en immer met ontsetting.

Maar Smith onderneem meer as net ‘n fisieke reis van Stellenbosch na Mamelodi. Daar in die township, waar mense onder die haglikste omstandighede hom verseker “Die Here hy es”, begin hy indringende vrae vra oor die God wat in die kerk van sy vaders aan hom voorgehou is. Wanneer dié God vir hom “sterf”, ontwikkel hy ‘n gans ander godsbeskouing as die van die konvensionele en dogmatiese gereformeerde leer. Hier is geen nietemin sprake van ‘n “God-is-dood-teologie” nie. Smith het net God anders leer ken, en daaroor skryf hy uitvoerig en met oortuiging.

___________________________

Mosaïek van menslikheid

Johan Jooste

Die Barmhartige Samaritaan is een van Vincent van Gogh se minder bekende skilderye. Tog maak dit ’n onuitwisbare indruk op jou. Vincent het sy lewe oopgeknoop en sy siel op palet geprent – en sodoende daardie rou lewensvrae ontbloot wat in baie mense se hart saamklink.

Hierdie uitbeelding wat Van Gogh aan die einde van sy lewe skilder, staan aan die einde van ’n ry kunswerke waarvan Jesus s’n die oorspronklike is. Toe Jesus trompop oor medemenslikheid gevra is, het Hy dit met hierdie vertelde kunswerk geïllustreer. Dié gelykenis daag jou uit om jou verbeelding te gebruik en verras te word, veral oor jou medemens. Van Gogh aanvaar die uitdaging in hierdie skildery wat die verweefde mosaïek van menslikheid na vore bring.

Hierdie bundel leesstukke laat jou dus nie net ’n klassieke meesterstuk bewonder nie. Jy klim as 't ware in die skildery en ontmoet self die Samaritaan. Só word jy medereisiger in ’n geloofreis wat jou uitbring by die dieper lewensvraag vir eensaam, stukkende mense: Wie gaan jy toelaat om jou medemens te wees?

Dit is ... die bedoeling dat ons lewe ’n kunswerk van hierdie verhaal sal word,

want hierdie verhaal mag nooit end kry nie.

___________________________

Praat-praat in Tamatiestraat

Hennie van Deventer

‘n Arme drommel wil ‘n einde maak aan alles – toe word sy “sterfbed” onder hom uit gekaap. Ouma se rooi nagrok verdwyn geheimsinnig uit die outehuis op romantiese uitstappies. ‘n Entoesiastiese dame sonder ‘n draad storm met ‘n oorlogskreet op haar lippe swembad toe – en ontdek, tot in haar siel geskok, ‘n onverwagte toeskouer.

Hennie van Deventer se plesierige storiebundel weerspieël allerlei verleenthede, skades en skandes wat hy in sy kleurryke omswerwinge slagoffers sien en hoor oorkom het, of, helaas, self oorgekom het. Met die fyn oor van die joernalis het hy ‘n ryke storie-oes opgebou. In Praat-praat in Tamatiestraat is letterlik honderde stories met ‘n vaardige pen verewig – eg of apokrief, en plek-plek met meer as net ‘n knippie stout!

Sy wye repertoire huppel ligvoets oor ‘n 70-stuks kostelike hoofstukke. ‘n Legio vrugbare temas word ontgin: die stuitighede by begrafnisse; die vuur en avontuur van opwindende laat liefdes; krom en skewe kommunikasie; dikvellige kuiergaste; mediese moleste, betjoinste boetebessies … noem maar op.

In sy vyftiende boek keer Van Deventer met ‘n uitbundige knal terug tot sy oorspronklike fort é : humor. Treffer-lagboeke soos Scoops en Skandes, Flaters en Kraters en Oos, Wes – Reismoles! vind in Tamatiestraat ‘n waardige stalmaat.

Die grimmigste suurknol sal sukkel om nie plek-plek hardop te lag nie vir hierdie bundel – van die vermaaklikste wat Afrikaanse boekrakke in ‘n lang tyd tref. Tamatiestraat kan met vrymoedigheid in die hand gestop word van elkeen met die behoefte om ‘n paar sorgvrye ure aan die alledaagse sleur te ontsnap.

___________________________

Nog titels word binnekort gelys


Tel: 021 465 0025 - Fax: 0866 750 776 - Web: www.griffel.co.za - Email: info@griffel.co.za
First Floor - 27 Derry Street - Vredehoek - Cape Town - RSA - 8001