------ ------------- -----------------

Eugène Terre'Blanche - my storie

Soos vertel aan Amos van der Merwe

RRP: R220

ISBN: 978-1-920424-10-7

Besonderhede:
230 mm x 150 mm, 296 pp
Sagteband

Biografie

Beeld-resensie

Artikel in Rapport

Bestel deur:


Met elke dag wat nuwe skokkende beweringe bring oor die omstandighede
rondom die moord op Eugène Terre’Blanche, is dit maklik om die persoon agter die koerantopskrifte te vergeet.

Nou verskyn Eugène Terre’Blanche – my storie. Geskryf deur dr. Amos van der
Merwe, onthul dit die man agter die hoofopskrifte.

Volgens Van der Merwe het die AWB leier se lewe verander tydens die drie jaar wat hy in die gevangenis deurgebring het. “Die hele aanslag van die boek is meer in lyn met vergifnis en versoening as wat die gewone mens verwag,” het hy onlangs in ’n onderhoud gesê.

Terre’Blanche het geglo hy was die slagoffer van magte groter as hyself en die
AWB. Sy siening van bogenoemde – en ander – gebeure, nadat hy dit weer
goed in die gevangenis bedink het, is dat hy keer op keer in die strik getrap het
wat die destydse NP-regering vir hom gestel het. Hy sit die teorieë herhaaldelik
en in fyn besonderhede uiteen – en nie sonder ’n mate van logika nie.

Hy hou ook vol dat hy later onskuldig tronk toe gestuur is weens aanranding op
’n petroljoggie, en laat blyk hy weet wie die eintlike skuldige was.

Dr. van der Merwe het die boek, wat oor twee jaar geskryf is met Terre’Blanche
se volle medewerking voltooi: dis dan ook Terre’Blanche wat deurgaans praat,
in die eerste persoon. Vir die eerste keer vertel Terre’Blanche heelwat van sy
lewe in die tronk – hoe sy geloof verdiep het terwyl hy agter tralies was, van sy
goeie verhoudings met sy medegevangenes – almal swart.

“Toe hulle hom leer ken het, het hulle agtergekom hy is anders as die beeld wat hulle van hom het. Verdraagsaamheid het aan albei kante ontwikkel,” het Van der Merwe in ‘n koerantartikel gesê.

In die boek vind die leser Terre’Blanche se eie weergawe van die destyds
opspraakwekkende en dikwels rampspoedige gebeure waarby hy as leier
van die AWB betrokke was; gebeure soos die slag van Ventersdorp, die
inval in Mmabatho en die bestorming van die World Trade Centre tydens die
grondwetlike onderhandelinge.

Benewens heelwat van Terre’Blanche se gedigte, inligting oor sy grootwordjare,
diens in die polisie en sy huwelik, bevat die boek breedvoerige uiteensettings
van sy politieke oortuigings, meer gematig as dié van die militante
weerstandsleier wat Suid-Afrikaners oor drie dekades heen leer ken het. Baie
ruimte word ook afgestaan aan sy versterkte Christelike oortuigings.

Hierdie boek gee ’n buitengewone insig in hierdie omstrede figuur. Die skrywer
het daarin geslaag om Terre’Blanche se psige te verken en gee ’n aangrypende
blik op een van Suid-Afrika se mees bekende figure.

Die leser sal self kan oordeel wie Terre’Blanche werklik was en waarvoor hy
homself beywer het. Was hy self die slagoffer van dit waarteen hy gewaarsku
het? Dit bly ’n ope vraag of sy nuutgevonde gematigheid hom die prooi van sy
gewelddadige dood gemaak het. In sy eie woorde: “Het ék dan ’n kans om ’n
weg te baan waar die ander gefaal het?”

Eugene Terre’Blanche – my storie was persklaar ten tye van die AWB-leier
se dood.



Tel: 021 465 0025 - Fax: 0866 750 776 - Web: www.griffel.co.za - Email: info@griffel.co.za
First Floor - 27 Derry Street - Vredehoek - Cape Town - RSA - 8001